![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
7 Julie, 2006 Die nuutste ekotoerisme speelding is 4x4-roetes. Om die eerste keer so ’n roete aan te pak, vat heelwat senuwees van enige voertuigeienaar. Die meeste 4x4-roetes word gemerk volgens ’n moeilikheidsgraad van een tot vyf, met vyf as baie moeilik en een as ’n roete wat maklik baasgeraak kan word deur ’n onervare 4x4-bestuurder. Vyf is dan die ekstreme roetes waar die geharde manne probeer om nie hul voertuie te beskadig nie en alle moontlik ratverhoudings word op dié roetes gebruik. Roetes wat gewoonlik as ’n graad twee en drie roete geklassifiseer word, benodig beslis ’n 4x4-voertuig en ondervinding van dié sport, terwyl graad drie roetes laeratverhouding voertuie vereis. Graad een roetes kan maar deur die tweewiel bakkies met ’n ewenaarslot en ’n gemaklike vryhoogte vanaf die grond aan gepak word. Graad vier roetes vereis natuurlik heelwat meer ondervinding en laeratverhouding by ’n voertuig. ’n Vierwiel aangedrewe voertuig maak sekere van die ekstreme roetes net meer gemakliker omdat so ’n voertuig anders as gewone tweewielaangedrewe voertuie — waar krag net in die voorwiele of net in die agterwiele aangedrewe is — vierwiel aangedrewe is. Dit beteken dat die voertuig meer krag het en moeilike terreine maklik kan kafdraf. ’n Ekstra laeratverhouding ratkas is wanneer ’n voertuig oor ’n addisionele stel rate laer as die normale eerste rat van ’n voertuig beskik. Dit het ’n voordeel dat voertuie in hierdie ratverhouding oor meer krag teen laer spoed beskik, wat te weeg bring dat daar stadig oor hindernisse soos rots en klippe gery kan word. Onder die vierwielaangedrewe voertuig-manne word ook gepraat van “soft roaders”. Dit is 4x4-voertuie met vierwiel krag, maar wat nie oor ’n laeratverhouding beskik nie. Wenke wat bestuurders ingedagte kan hou met rotse, klippe en uitgrawings tydens ’n 4x4-roete is om die as- en bakhoogte van die voertuig dop te hou. Moet onder geen omstandighede die voertuig op die rots laat “hang” nie. Gebruik iemand wat die pad aanwys as die hoogte krities begin raak en maak ook seker van die voertuig se ewenaar. Nog ’n lekker wenk is dat “cross-ply” bande koste verlaag as daar baie oor rotse en klippe gery gaan word, maar maak seker dat die spoed met hierdie bande laag is. Remme op klipperige oppervlaktes is minder effektief as op ander padoppervlakgedeeltes en uiterste klipperige en rotsagtige terreine vereis die laagste rat van die voertuig. Om jou 4x4-voertuig beter te leer ken, kan die 4x4-instrukteur, Frans Stols, wat maandeliks saam met Die Pos 4x4-roetes in die Waterberge besoek, gekontak word by tel. 072 1380 158. Tydens die Springbokvlakte Landbou en Nywerheidskou op Bela-Bela (Warmbad), wat vanaf 17 tot 19 Augustus plaasvind, sal ook verskeie 4x4-demonstrasies en opleidingswerkwinkels aangebied word. Hou Die Pos dop. © Die Pos |