Die Pos front page
HOME / VOORBLAD

NUUS/NEWS INDEX/INDEKS

DIARY/DAGBOEK

WEATHER/WEER

SMALLS / KITSGIDS

FARMING/BOERDERY

LETTERS/BRIEWE

TITBITS/ONS HOOR

STOP
CRIME/MISDAAD

SPORT

WOMEN/VROUE

RECIPES/RESEPTE

CONTACT US
KONTAK ONS

EMERGENCY NUMBERS
NOODNOMMERS

Maboté bied variasie vir 4x4-eienaars
7 Julie, 2006

Nicola Diener

Na ’n besoek aan Maboté River Lodge, sal ’n mens die woorde van die liedjie van ’n bekende Afrikaanse sanger “Dit is hemel op Tafelberg” verander na — dit is hemel in Waterberg!

Maboté is so 60 km noordoos van Naboomspruit en bied benewens vier verskillende 4x4-roetes ook vyfster akkommodasie wat perfek inpas by die natuur. Maboté is geleë langs die oewers van die Klein-Sterkrivier op die plaas Groothoek en die basiskamp is tussen die klowe aan die voet van die Waterberg-reeks.

Jan Peens, eienaar van die grond, vertel dat die hoofkamp ontstaan het toe Laerskool Sterkrivier leierskampe en skoolveldkampe vir skoolkinders in die kloof gehou het. Die oorspronklike drie grasdak strukture is nadat die skool toegemaak het, met ’n kunstige hand omskep in pragtige chalets.

Die Pos het die 4x4-roetes by Maboté aangepak saam met Frans Stols, 4x4-instrukteur van Kariba 4x4 — vier lekker gesinsveldroetes met geen uitsonderlike ekstreme nie.

Die roetes wissel tussen 2 en 7 km, wat goed gemerk is in verskillende kleure en wissel tussen graad 2 en 3 roetes. Al vier die roetes kan in een dag aangepak word en is geskik nie net vir vierwielaangedrewe voertuie nie, maar ook vir voertuie met ’n ewenaarslot en hoër as- en bak hoogte.

Daar word bitter min na lae ratverhouding oorgeskakel en dit maak dit ’n heerlike gesinsveldroete — selfs vir die persoon wat nog nie vertroud is met vierwielaangedrewe toestande nie.

Die enigste roete waar lae-ratverhouding in werking tree, is op die bruin roete van 2 km, waar verskeie op- en afhellings op rotsbanke aangetref word. Dié roete is die mees ekstreme van die vier roetes en bied ook die meeste fasette vir vierwielaangedrewe vernuf aan die bestuurder.

Dit strek langs die voet van die berg met loodregop kranse tot bo-op ’n koppie met ’n asemrowende uitsig oor die plaas en die bekende “Hanglip”. By sekere gedeeltes van die roete, is dit noodsaaklik om uit te klim en die rotsagtige gedeelte na te gaan om te verseker dat die lyn van bestuur behoorlik bestudeer word voordat die klipbank aangepak word. Op dieselfde roete is daar ook gedeeltes waar die bestuurder met modder te doen kry en veral in die somermaande wanneer die natuurlike fonteine sterk loop, ry ’n mens op een stadium op ’n klipbank om net daarna weer die modderpoele aan te pak.

Die groen roete van 3 km bied die uitdaging van ’n loodregte grondhelling langs ’n dam en ook ’n gedeelte waar die Klein-Sterkrivier oorgesteek word. Daar was dit nodig vir die bestuurder om uit te klim en die diepte van die rivier waar te neem. ’n Gedeelte van dié roete lei oor die nek van die kop, waar dit baie klipperig is, maar ook daar kan die gewone voertuig met ’n ewenaarslot ry.

Die langste roete by Maboté is 7,7 km — nog ’n heerlike veldroete met geen uitsonderlike ekstreme nie, op die vlei-gedeelte van die plaas. Sowat 5 km van die roete lê langs die Klein-Sterkrivier wat opdam in ’n pragtige dam waar watervoëls lustig in die riete kwetter. Dié roete — die blou roete — beproef nie net die bestuurder se vermoë om in nat en modderige toestande te bestuur nie, maar ’n paar klipbanke maak seker dat die voertuig letterlik stadig oor die klippe.

Hierdie roete is pragtig en veral vir die natuur- en voëlliefhebber ’n moet. In somermaande waarsku Esmé Peens, wat aan die roer van sake by Maboté is, het voertuie vasgeval en is daar twee dae lank gesukkel om hulle te herwin — bring maar die normale herwinningstoerusting vir nat toestande saam as hierdie roete aangepak word.

Met Die Pos se besoek het die “Trent Tyre” Landrover tot op die as vasgeval en is daar ’n halfuur lank gespook om die voertuig te herwin.

Die vierde roete op die plaas is ’n 5,7 km veldroete bo-op die plato van die berg op 1 300 m bo seevlak vanwaar ’n mens ver oor die Sterkrivier-vallei kan kyk. Maboté is ’n natuurparadys — berge met rotsformasies en rotstekeninge, klipkoppies, vleilande, ’n lopende rivier en watervalle met genoeg water het hom die naam Waterberge gestand gedoen. Daar kom verskeie inheemse plante asook hoëveld plantegroei en tropiese inheemse varings en broodbome in die klowe voor met natuurlik swemgate en damme vir hengel.

Maboté beskik oor selfsorg akkommodasie asook ’n bergkamp vir die wat in hul eie tente wil bly. Agt voertuie kan op een slag op die roetes geakkommodeer word vir ’n ideale 4x4- gesinsnaweek. Vir navrae oor die roetes skakel vir Esmé Peens by tel. (015) 453-0792.

© Die Pos