![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
Vrydag, 14 Mei, 2010 Louise Labuschagne Die dankbaarheid loop dik in die Eksteen-familie van Bela-Bela nadat ’n modderige vleiland en pepersproei twee skarminkels laat vlug het wat op pad was om ’n man te ontvoer en sy motor te kaap. Mnr. Oos Eksteen (79) is ongedeerd ná die riller-ondervinding op Maandagmiddag, 10 Mei, toe twee mans hom buite Bela-Bela op die Modimolle-pad by sy motor oorval het. Hulle het hom gedwing om met hulle op die Eersbewoond-pad te ry. Dit het gebeur toe Eksteen omstreeks twaalfuur die middag se kant stilgehou het om na sierpotte langs die pad te kyk. Eksteen wou vandeesweek nie veel oor die gebeure sê nie, behalwe “dit was nie lekker nie”. Verder het hy verskeie mense bedank wat hom ná die petalje gehelp het. Hy is veral dankbaar teenoor mnr. Neels Grobler wat sy motor in die vleiland langs die pad opgemerk het, die polisie, Tromar Ambulansdienste en almal wat gebid het toe hy vir sowat ses uur vermis was. Eksteen se seun, Dewald, het vandeesweek aan Die Pos gesê “vir die ongelowige is hier baie toeval in die gebeure, maar vir ons wat gelowig is, is dit vol hope genade”. Volgens hom het die twee mans, wat sy pa in hul dertigs skat, gesê: “Ons soek jou kar.” Hulle het hom in die motor ingedwing en op die Eersbewoond-pad laat afdraai, regs oor die spoorlyn, op pad na die N1-snelweg. Dewald het gesê op ’n tweespoorpad naby die brug oor die N1, is sy pa gesê om om te draai. “Toe hulle vir hulle kom kry, is hulle in ’n vleiland. Al vier wiele het in die modder vasgesit en die water het deur die motor geloop. “Die mans was steeds in die kar toe my pa uitklim en die pepersproei uithaal. Hy het hulle goed gespuit waarna die twee die hasepad gekies het.”
|