![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
Vrydag, 14 Mei, 2010 Martelise Bridger Kapt. William Mpete van die Vaalwater-polisiestasie het onlangs sy kantoordeur oopgemaak vir Die Pos en vertel dat die stasie besig is om alles in hulle vermoë te doen om sy gemeenskap te beveilig. Die stasie en ander veiligheidstrukture het vergader en ’n plan van aksie opgestel om daadwerklike stappe in plek te stel wat betref landelike areas, wie om te kontak in gevaar en hoe hulle tot vinnige aksie kan oorgaan. Die stasie het ook ’n forum gestig vir gestremdes in die omgewing, waar die stasie van huis tot huis hulp verleen met dokumentasie en seker maak om veiligheidstrukture vir gestremdes op te stel. ’n “Vroue-teen-misdaad”-veldtog is ook opgestel waar polisievroue ’n meer sigbare rol in die omgewing sal speel. Die veldtog is een van die aksiestappe na aanleiding van die gruwelike verkragting wat onlangs op die dorp plaasgevind het. Kennisgewings sal binnekort in die dorp opgesit word om vroue uit te nooi na die volgende vergadering. Een van die belangrike stappe wat beoog word, is ’n vergadering met die boeregemeenskap op Donderdag, 13de, om maatreëls in plek te stel by die dokumentering van plaaswerkers. Die polisie beoog om elke plaas te besoek en arbeiders se vingerafdrukke en foto’s te neem. Volgens Mpete sal dit die polisie help om data op te bou in die hoop op misdaadbekamping. Hulle hoop om veral inligting oor onwettige immigrante te dokumenteer. Mpete glo dat positiewe kommunikasie tussen die stasie en sy gemeenskap noodsaaklik is. Hy vra ook dat enige lid van die gemeenskap hom direk moet kontak indien hulle ontevrede is met die stasie se dienslewering. Vaalwater se poli-siestasie kan geska-kel word by tel. (014) 744-9704/9703/9705.
|