Die Pos front page
HOME / VOORBLAD

NUUS/NEWS INDEX/INDEKS

DIARY/DAGBOEK

WEATHER/WEER

SMALLS / KITSGIDS

FARMING/BOERDERY

LETTERS/BRIEWE

TITBITS/ONS HOOR

STOP
CRIME/MISDAAD

SPORT

WOMEN/VROUE

RECIPES/RESEPTE

CONTACT US
KONTAK ONS

EMERGENCY NUMBERS
NOODNOMMERS

Die arendsoog van Bosveld-polisie kyk skerp
Vrydag, 21 Mei, 2010

Ena Boshoff

Wakker polisielede van Mookgophong (Naboomspruit) het ses mans aangekeer ná twee gewaagde rooftogte op die dorp.

Die polisie was op die uitkyk vir verdagtes nadat die klerewinkel Exact in die hoofstraat op Maandag, 10 Mei, teen sluitingstyd deur vier gewapende mans beroof is. Volgens inligting het mans reeds die vorige Saterdag voor die winkel rondgestaan en verdag voorgekom. Die rowers het Maandag toegeslaan. Hulle het die personeel in ’n kamer toegemaak nadat hulle hul handsakke, selfone asook selfone in die winkel en kontant in die kasregister geneem het. Die mans het baadjies in die winkel aangetrek en die winkel verlaat.

Die bestuurder van ’n taxi het onraad vermoed toe hy ná werk die personeel soos gewoonlik wou oplaai en niemand uit die winkel kom nie. Hy het gaan kyk wat aangaan en hul krete gehoor. Die rowers het vermoedelik met ’n wit Polo gevlug.

In nóg ’n voorval is die winkel van ’n Somaliër in die township net voor sluitingstyd om nege-uur die aand op Woensdag, 12 Mei, deur ses gewapende mans beroof. Die eienaar is met ’n vuurwapen aangehou terwyl die rowers geld, selfone, lugtyd, munte en sy Colt-bakkie geroof het.

Oomblikke nadat die rowers met die bakkie weggery het, het omstanders ’n slag gehoor. By nadere ondersoek, het dit geblyk die mans, wat die omgewing nie goed geken het nie, het in ’n sloot beland. Hulle het te voet verder gevlug.

Die misdaadvoorkomingseenheid was op Donderdag, 13 Mei, op patrollie in die Phomolong-woonbuurt toe hulle ’n verdagte wit Jetta in die veld opgemerk het. Hulle het die motor en die ses mans deursoek.

’n Vuurwapen, handskoene, lugtyd en ’n groot hoeveelheid munte is by hulle gekry. Een van die mans het na bewering erken dat hulle die Somaliër se winkel beroof het. Daar word ook vermoed dat die mans hul volgende rooftog vir daardie aand beplan het.

Die beskuldigdes het op Maandag, 17 Mei, in die streekhof op Mokopane verskyn. Die saak is tot Woensdag, 26 Mei, uitgestel. Hulle word aangekla van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en word glo positief verbind met die diefstal van die Somaliër se bakkie.

Een van die beskuldigdes is onder agtien en in die sorg van sy ouers vrygelaat. Volgens kapt. Mike Mokale word die mans nie met die rooftog by Exact verbind nie.


© Die Pos