Die Pos front page
HOME / VOORBLAD

NEWS/NUUS

FARMING/BOERDERY

LETTERS/BRIEWE

TITBITS/ONS HOOR

STOP
CRIME/MISDAAD
INDEX/INDEKS

SPORT

WOMEN/VROUE

RECIPES/RESEPTE

CONTACT US
KONTAK ONS

EMERGENCY NUMBERS
NOODNOMMERS

Plaaswagstelsel om plaasmoorde te bekamp
Vrydag, 16 April, 2010

Martelise Bridger

Vaalwater se Distrik Landbou-unie (DLU) het reeds sedert die afskaffing van die kommandostelsel, ’n plaaswagstelsel in werking gestel om veral misdaad en plaasmoorde te probeer bekamp.

Die ses boereverenigings van die Vaalwater-omgewing het tot nou toe hierdie diens op eie koste verrig.

“Die toename in plaasaanvalle in die gebied het ons gedwing om meer effektief op te tree,” het mnr. Hans Vreugdenburg, DLU-lid van Vaalwater gesê. “In samewerking met die DLU en boereverenigings, sowel as die gemeenskap van Vaalwater, is daar besluit om ’n sentrale Beheerkamer en Inligtingsentrum, wat op ’n 24-uur basis tot almal se diens beskikbaar sal wees, te vestig.

Die beheerkamer sal van uitstekende professionele standaard wees en deur opgeleide personeel bedien word.”

Die DLU voel dat die behoefte van so ’n diens op Vaalwater en in die distrik genoop is deur die onlangse toename van kriminele aktiwiteite, wat die hele gemeenskap met weersin vervul. Selfs die geestelike leiers op die dorp was, ná ’n dringende vergadering wat met hulle belê is, dit eens dat die hele gemeenskap gesamentlik iets aan die situasie moes doen.

Die totale oprigtingskoste beloop R80 000, waarvan die DLU reeds R38 000 geskenk het en wat aangewend is vir die opgradering van kommunikasiestelsels binne die hele gebied. ’n Onderneming wat spesialiseer in tweerigting radio’s het ook R6 000 bygedra tot radio’s vir die nuutgestigte beheerkamer.

Daar is egter nog ’n bedrag van R36 000 uitstaande om kantoortoerusting en ’n rekenaarnetwerk aan te koop. Die DLU rig ’n versoek namens die gemeenskap van Vaalwater om hulle by te staan in hierdie projek. Die maandelikse bedryfskoste sal nagenoeg R25 000 beloop, waarvoor nog fondse benodig word.

“Dit is die oortuiging van die bestuur en beheerpersoneel dat die databasis wat op hierdie wyse opgebou sal word, tot voordeel van elke inwoner in ons gebied aangewend sal kan word vir voorkoming, sowel as reaktiewe optrede teen misdaad. Dit is nie meer ’n vraag of u wil betrokke raak nie. Mense móét in die strukture betrokke raak,” het Vreugdenburg gesê. Die doelwit van die organisasie is dat elke boerevereniging, binne eie verband, in staat moet wees om in ’n gegewe situasie sy eie gesamentlike operasionele sentrum te kan vestig, waaruit gebeure bestuur kan word.

Dit sal uiteindelik verseker dat die hele gebied in ’n netwerk bestuur kan word. Vir enige navrae, skakel tel. (014) 755-3760 of tel. 083 236 4387 of tel. 082 973 9462.

© Die Pos