![]() HOME / VOORBLAD
STOP
|
Vrydag, 28 Mei, 2010 Louise Labuschagne Sekere leierboere van georganiseerde landbou in Limpopo is krapperig oor die “stigting van sogenaamde private kommando’s”. Die organiseerders beweer dit is met die steun van die vakbond Solidariteit en plaaslike verteenwoordigers. ’n Politieke party se naam is voorts genoem in die aksie. Mnr. Francois van den Berg, president van Agri Limpopo, het aan Die Pos gesê hy is bekommerd en maan mense “tot versigtigheid”. Die “kommando” onder die mantel van “private veiligheid strukture” is teen die wet, sê hy. “Die mense het geen reg nie en eien hulself magte toe. Oningeligtes word gemobiliseer en mislei weens die weerloosheid van mense en hul erge kommer oor veiligheid,” het Van den Berg gesê. Volgens hom het sy organisasie onder meer met Solidariteit gepraat en ook met die gemeenskapsektorpolisiëring, wat dit nie steun nie. ’n Woordvoerder van TLU SA Noord het aan Die Pos gesê mense het die reg tot vryheid van assosiasie, “maar bly binne die wet”. Volgens haar het TLU SA Noord sy lede aanbeveel om binne sy eie strukture te bly. “Dit werk goed en ledegeld sluit veiligheid in. Ander strukture is ’n mors van geld.” Van den Berg het gesê Solidariteit het in reaksie gesê die vakbond “sal en wil nooit so ’n poging ondersteun nie”. Agri Limpopo het die saak ook met mnr. Pieter Groenewald van die VF Plus bespreek. Hy het bevestig dat hy bewus is van sekere sekuriteitsaksies wat plaas-vind, maar die party sal dit slegs ondersteun indien dit binne die raamwerk van die wet is. Van den Berg het gesê dit is verstaanbaar, gegewe die landelike veiligheid sit-uasie, dat daar ’n behoefte bestaan by boere om hulself, hul gesinne en eiendomme te beskerm teen aanvalle. “Dit moet egter binne die wette van die land gedoen word. Die kommandostelsel is uitgefaseer en het geen wetlike status nie.” Hy het gesê geen land kan bekostig of behoort dit te duld dat daar private “weermagte” binne die landsgrense opgebou word nie. Die taal wat in die konsepkommando-reglement van orde ge-bruik word, is die van ’n private weermag, waarmee die owerhede sekerlik met goeie rede ernstige probleme kan hê. “Daar is verder sprake van die gebruik van vlae en simbole uit die verlede en die uitsluiting van swart mense uit die strukture, dinge waaroor daar groot politieke sensitiwiteit bestaan. Hy het mense voorts gewaarsku om te onderskei tussen ’n privaat-weermag, ’n sekuriteitdiensverskaffer en plaaswag. “Die Wet op die Beheer van Vuurwapens reguleer die dra en gebruik van vuur-wapens. Lede van byvoor-beeld ’n plaaswag moet aan al die bepalings van hier-die Wet voldoen. “Die polisie ondersteun die gedagte van buurt- en plaaswagte wat saam met die veiligheidsmagte werk. ”Volgens hom is Agri se standpunt dat boere moet deelneem aan die stelsel van gemeenskapsektorpolisiëring wat die kommandostelsel vervang het en by die polisiediens aansluit as reserviste. “Plaaswagte wat in samewerking met die polisie optree, is wettig en ’n goeie idee. ’n Privaat-weermag (kommando) is onwettig.”
|