![]() HOME / VOORBLAD
STOP
|
Vrydag, 26 Februarie, 2010 Louise Labuschagne Boere het met die begroting nog ’n gevoelige hou in die maag gekry in die vorm van ’n brandstofheffing van meer as 25c per liter. Georganiseerde landbou in Limpopo en elders het vroeër reeds skok uitgespreek terwyl die adjunkminister van landbou, dr. Pieter Mulder, dit “’n fout” genoem het wat groot druk “op reeds swaar belaste motoriste en die inflasiekoers gaan plaas”. Te midde van die landbou-wanklank, is mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, se eerste volbloedbegroting redelik gunstig oor ’n wye spektrum ontvang as ’n “gebalanseerde” begroting. Mnr. Francois van den Berg, voorsitter van Agri Limpopo, het gesę die heffing gaan landbou “seermaak”. “Met die begroting het ons as boere “weer aan die droë speen gesuig”. Mnr. Rudolph Botha, besturende vennoot van PR Botha en kie op Bela-Bela en Pretoria, het aan Die Pos gesę boere behoort van die heffing vrygestel te word omdat dit “wyd gaan tref”. Die heffing is ingestel vir verbetering van sake wat niks met landbou te doen het nie, het hy gesę. Boere het ook nie daarop gereken nie, het Botha gesę Daarenteen het die minister nie die vergunning wat kleinsakekorporasies het, in die begroting aangetas nie. “Dit dwing sakelui om skerper te kyk na die belastingwet en alle voordele wat hom toekom, te benut. “’n Voorbeeld hiervan is die uiters gunstige bepalings wat kleinsakekorporasies die reg gee om tot R300 000 netto-wins net 10% belasting te betaal,” het Botha gesę. Intussen het die TLU SA se mnr. Ben Marais, president, “met skok” kennis geneem van die styging van die 25c. “Die styging gaan die boer erg tref, omdat elke vertakking van boerdery brandstof-sensitief is.” Volgens hom gaan dit nie net die verbruiker erg raak nie, maar die boer, wat ’n verbruiker is in eie reg is, gaan ewe swaar getref word. Vervoerkoste gaan ook ’n invloed hę op sy kunsmis-, saad- en voerpryse omdat baie daarvan vervoer word. Marais het luidens ’n verklaring gesę “landbou het nou op die punt gekom dat hy op die rand van ’n katastrofe huiwer. Tensy daar nie voorsiening vir die boer gemaak gaan word nie, gaan die verhoogde koste lei tot vermindering in voed-selproduksie, met alle gevare daaraan verbonde”. Volgens hom gaan die brandstofverhoging en die verwagte verhoging van elektrisiteit alle ander pryse astronomies laat styg, terwyl die boere steeds in die onbenydenswaardige posisie is dat hulle maar moet aanvaar wat hulle kry. Teen druktyd van Die Pos was Nersa se besluit oor die verhoging in elektrisiteitstariewe van Eskom nog nie bekend nie.
|