ROOI TAPYT UITGEROL
En daar breek Suid-Afrika se Groot Dag toe vandag (11 Junie) aan.
Die rooi tapyt is uitgerol vir die Wêreldbeker-sokkerbeker se openingseremonie vanmiddag om twee-uur, Bafana Bafana is gereed vir hul eerste wedstryd en Suid-Afrikaners van oor alle kultuurgrense heen hou asem op vir ’n wonderwerk. Geen wonder die vuvuzelas raas al die hele week nie!
Terwyl die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) en Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) werkgewers aan die een kant mooi vra om hul werkers af te gee vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi se openingseremonie en die eerste wedstryd van Bafana Bafana, spreek produktiwiteit SA aan die ander kant sy kommer uit oor die verlies aan produktiwiteit tydens die toernooi.
Ook oorsee word daar gemor dat mense ook ná die wedstryde onproduktief gaan wees, omdat hulle wel om kantoor sal wees, maar vir ure lank ná die wedstryde nog elke punt sal staan en bespreek.
Die AHI sê, ter wille van nasietrots en eenheid, moet alle Suid-Afrikaners asseblief tyd afkry vir die opening en Bafana se eerste wedstryd. Busa sê, komaan, dis ’n historiese dag vir Suid-Afrika hierdie.
Volgens ’n peiling wat namens Fifa gedoen is, is Brasilië, wat die wê-reldbeker al vyf keer gewen het, vanjaar se gunsteling-span. Maar in die tweedeplek is niemand minder nie as ons eie Bafana, hoewel hulle kans nie te goed lyk nie.
Maar die belangrikste seker van die peiling: Agt uit tien respondente meen vanjaar se Wêreldbeker gaan mense in Suid-Afrika verenig.
Laat die produktiwiteit dan maar so ’n bietjie eenkant lê vanmiddag, wat? Die son skyn warm, die vuvu’s klink mooi en die diski-dans is lekker.
En boonop is die mooie Cristiano Ronaldo van Portugal op Suid-Afrikaanse bodem. Wat wil ’n mens nou meer hê?