![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
4 Junie, 2010 Louise Labuschagne Die jong navigator wat die afgelope naweek saam met die vlieënier op Bela-Bela dood is nadat hul vliegtuig se vlerke tydens die Presidentstrofee-wedvlug in die lug aan stukke gebreek het, se ouers van Kanada, broer en vrou het by die eindpunt op die twee gewag. Hulle het die skoknuus daar verneem, het me. Maryke Erasmus, vrou van mnr. Cronjé Erasmus, vandeesweek aan Die Pos gesê. Dit was die tweede keer dat Erasmus en die vlieënier, mnr. Werner Blignaut, saam gevlieg het. Albei is op slag dood toe die tweesitplekvliegtuig Saterdagmid-dag, 29 Mei, om-streeks eenuur die middag se kant op die Noodhulp-hoewes buite Bela-Bela naby die Thabazimbi-pad neergestort het. Dit wil voorkom asof dit ’n meganiese fout kon wees, het ’n polisiewoordvoerder gesê, hoewel ondersoeke nog voortduur. Die polisie het die gebied by die ongeluk onmiddellik ná die ongeluk afgesper vir die ondersoek. Erasmus en sy vrou is agtien maande gelede getroud en het ’n tweemaande oue babadogtertjie, Anja, wat haar pa se oogappel was. Blignaut, ’n vlieginstrukteur en han-delsvlieënier by Na-turelink by die Wonderboom-lughawe, was luidens Beeld verloof aan me. Sharon Badenhorst. Me. Erasmus het aan Die Pos gesê “Hy was ’n engelman en gek oor Anja. Hy kon nie wag om in die middag by die huis te kom nie.” Erasmus en Blignaut het mekaar in dieselfde vriendekring ontmoet. Erasmus was ook ’n vlieginstrukteur by ’n onderneming in Pretoria. Volgens me. Erasmus sal sy eendag aan hulle dogtertjie kan sê “haar pa was superlief vir Jesus. Dis wat ons aanmekaar bind,” het sy gesê. Erasmus se ouers wat van tyd tot tyd in Kanada werk, was onder meer hier vir die wedvlug. Me. Ida Mostert, bekende in boogskietkringe op Bela-Bela, het aan Die Pos gesê sy het buite geoefen. Sy is in die huis in nadat sy besef het dit is ’n wedvlug en het haar dogter, Amanda, gaan roep. Hulle het op die stoep gestaan en na die vliegtuie gekyk. Die rampvliegtuig het volgens haar effe hoër as die ander gevlieg. “’n Groot brokstuk het van die vlerk gebreek, daarna kleiner stukke. Toe breek alles uitmekaar. Die romp het regaf grond toe geval. “Alles het binne ’n paar sekondes gebeur. Ons het genadiglik nie rook gesien nie, maar in die rigting gejaag waar die vliegtuig neergestort het. Tromar Ambulansdienste en die polisie was reeds daar,” het sy gesê. Die mans was nog in die kajuit. Volgens Mostert het sy gedink die mense is dood. “’n Mens skrik en besef hoe nietig jy is.” Kol. Abel Phetla, speurhoof het aan Die Pos bevestig die polisie sowel as burgerlugvaart ondersoek die ongeluk. Erasmus is op Donderdag, 3 Junie, vanuit die Gereformeerde Kerk Totiusdal in Pretoria begrawe. Hy word onder meer oorleef deur sy vrou, babadogtertjie, sy ouers, ’n broer en twee susters. Blignaut se begrafnis is volgens me. Erasmus vandag (Vrydag, 4 Junie) om elfuur die oggend in Rooihuiskraal by Centurion. © Die Pos |