Die Pos front page
HOME / VOORBLAD

NUUS/NEWS INDEX/INDEKS

DIARY/DAGBOEK

WEATHER/WEER

SMALLS / KITSGIDS

FARMING/BOERDERY

LETTERS/BRIEWE

TITBITS/ONS HOOR

STOP
CRIME/MISDAAD

SPORT

WOMEN/VROUE

RECIPES/RESEPTE

CONTACT US
KONTAK ONS

EMERGENCY NUMBERS
NOODNOMMERS

Begrotingslawaai swig voor sokker-manie
4 Junie, 2010

Louise Labuschagne

Selfs Sokker-Vrydag se eenheidstruie van Bela-Bela se raadslede kon nie die witwarm munisipale herrie oor die “begroting vir die mense” keer nadat die dorp se burgemeester goedkeuring vir R187,513 miljoen gevra het nie.

Die opposisie en ANC-raadslede wou oor sekere knelpunte praat, maar die speaker, me. Fatima Maloka, en die burgemeester, me. Henriëtta Ledwaba, het as’t ware die eindfluitjie ná die begrotingsrede geblaas voordat die begroting tot stemming gebring is.

Benewens die rooi kaarte tussen raadslede, is van die goeie nuus vir belastingbetalers die geld wat onder meer bewillig is vir die herseël en opgradering van sekere strate, die vervanging van die dorp se hoogspanningsdrade, die opgradering van elektriese skakelkaste, die verskuiwing van die rioolpompstasie, die verbetering van die lisensietoetsgronde en -toerusting.

Die nuwe munisipale gebou kry kantoormeubels ter waarde van sowat R2 miljoen en vier rekenaars (“servers”) vir R1 miljoen.

Dít wat die inwoners se sakke gaan ruk, is ’n verhoging van 5,1% in eiendomsbelasting, 10,8% vir water, 19% vir elektrisiteit, 13,8% vir sanitasie en 13,8% vir vullisverwydering.

Die raad se uitgawes van R162 miljoen bestaan uit 35,93% vir salarisse, 1,6% vir raadstoelaes, 22,7% vir grootmaataankope, 27% vir “algemene besteding” en 12,6% vir gekontrakteerde dienste.

Volgens Ledwaba gaan die “struggle” vir ’n beter lewe vir alle mense voort, “maar ek is oortuig die ontwikkelingsuitdagings soos die agterstand in paaie, stormwater en behuising sal oorkom word”.

Mnr. John Fourie, onafhanklike raadslid, het gesê daar is verskeie punte in die begroting waarmee hy kan saamstem of nie saamstem nie. Wat hom egter bekommer, is die sake waaroor die burgemeester nié gepraat het nie.

Hy het onder meer verwys na die probleme in ouditverslae, die swak toestand van die dorp se paaie, diefstal, die ondersoek in die verkeersafdeling, swak finansiële prosedures en die welstand van die munisipaliteit as agent van die dorp se belastingbetalers (“well-being of the municipality”).

Hy wou voorts ’n uiteensetting hê van waarop die dorp sy geld bestee. “Ons kan nie aangaan (met die begroting) as probleme nie bespreek en opgelos is nie. Ek kan nie stem vir ’n blanko tjek nie,” het Fourie gesê.

Volgens hom is dit “’n swak begroting en ’n swak begrotingsdokument.” Fourie het gevra dat die begroting nie aanvaar word nie.

Mnr. Kobus van der Merwe van die DA het gesê hy is ontsteld en verbaas oor die begroting wat ter tafel gelê is.

Hy wou nes Fourie meer inligting oor die bestedingsplanne hê. Sy ander groot beswaar is die “gemeenskappe se insette in die voorgestelde begroting wat net mooi ’n ronde nul tel.”

Hy het aan Die Pos gesê die voorgestelde begroting moet ingevolge die wet aan die wyke voorgelê word, “maar dis oëverblindery hier”. Die insette en kommentaar is net geïgnoreer. Volgens hom is sy groot kommer egter die munisipaliteit se afhanklikheid van regeringstoelaes en die omstrede eiendomsbelasting om die begroting te laat klop.

“Die munisipaliteit is uitgelewer aan die toelaes en moet daarsonder kan klaarkom in sy besigheid.” Die begroting steun heeltemal te swaar op toelaes en hy raak toelaag-afhanklik, het hy gesê.

Van der Merwe, soos van die ANC-raadslede, was eweneens ontsteld oor die afdelingsbestuurder vir die kantoor van die burgemeester wat in die begroting “deurgestoomroller” is, terwyl dit nie deel van die voorgestelde begroting was nie.

Dit is juis dié pos wat ook die vonk was vir van die ANC-raadslede. Mnr. Lucas Nhlapo, hoofsweep van die ANC, het voorgestel dat knelpunte in die begroting bespreek word, waarop Maloka gesê het die vergadering verdaag.

Sowel Fourie as me. Matilda Radebe het probeer praat, maar hulle moes hoor hulle is “buite orde” en die vergadering verdaag.

Fourie is herhaaldelik gevra om te gaan sit nadat harde woorde geval het. Maloka het gesê die begroting is goedgekeur nadat dit voorgestel en gesekondeer is. Dit is egter nooit tot stemming gebring nie, wat vir die opposieraadslede ’n reuse-probleem is.

Volgens Fourie en Van der Merwe het Bela-Bela regstegnies nog nie ’n goedgekeurde begroting nie.

Fourie en die DA se mnre. Daan Gravett en Kobus van der Merwe, was teen die begroting gekant.

© Die Pos