![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
4 Junie, 2010 Toeval of ’n wonderwerk? Die personeel van die Drs. Emslie en De Jonge se mediese praktyk op Bela-Bela verkies om na die ooievaar se onverwagse besoek op Dinsdag, 1 Junie, by dié praktyk as ’n wonderwerk te verwys. Toe me. Gladys Lekalakala van Modimolle dié og-gend vir ’n roetine-ondersoek tydens haar swangerskap by dr. Victor Emslie opdaag, het die per-soneel nie gedink dat een van die spreekkamers binne oomblikke in ’n kraamsaal omskep sou moes word nie. Suster Janetta van Niekerk van die praktyk sê dit is die eerste keer in die bestaan van dié praktyk dat ’n baba in die spreekkamer gebore is. Gewoonlik is die ambulans betyds om die pasiënt hospitaal toe te neem, maar in hierdie geval het alles “net te vinnig gebeur”. Klein Mpho Lekalakala het besluit dat sy bitter graag op Nasionale Kinderdag, 1 Junie, gebore wou word en nie gaan wag tot haar verwagte datum van 17 Junie nie. Sy was ook te haastig vir die ambulans. Dr. Meyer de Jonge het aan Die Pos gesê dat die ooievaar blykbaar al die vorige dag op Maandag, 31 Mei, met sy streke begin het toe vier babas op dié dag by St. Vincent Privaat Hospitaal op die dorp gebore is. “Die vyfde een is toe sommer hier afgelaai,het hy vertel. Die personeel van die praktyk het soos ware “moedertjies” om klein Mpho gekloek. Selfs die werkers in die rekenaarafdeling het hand bygesit en me. Madie Eksteen het vinnig ’n babakombers gaan koop om die ooievaar se geskenk darem ordentlik te “verpak” vir die rit in die ambulans. Die twee verpleegkundige susters wat tydens die bevalling gehelp het, Van Niekerk en suster Hettie Grobler,sê kennis en ondervinding roes nie met die tyd nie en alles het sommer weer soos “gister” gevoel toe hulle moes spring om alles gereed te kry vir klein Mpho se aankoms. Van Niekerk het in 1979 laas met ’n bevalling hand bygesit en Grobler laas in 1962. Klein Mpho en haar ma is deur Tromar Privaat Ambulansdienste vanaf die praktyk na die St. Vincent-hospitaal vervoer vir die nodige nasorg. Emslie sê die adrenalien het behoorlik geklop en hom so ’n bietjie van sy eie seer spiere laat vergeet. Dié mediese praktisyn het twee dae voor Mpho se geboorte die Comrades voltooi. © Die Pos |