![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
4 Junie, 2010 Louise Labuschagne ’n Boer en sakeman van Bela-Bela sou sy familie-Bybel uit sy brandende huis wou red nadat sy gesin die naweek al hul besittings in ’n verwoestende brand verloor het. Mnr. Louis Boshoff en sy vrou, Irene, van Engweni-plaas by Drooggekloof buite Bela-Bela, sou teen druktyd waarskynlik reeds voor die uitgebrande murasie van hulle eens spoghuis gestaan het. Die Boshoffs was in die wildtuin toe alles in die huis Sondagoggend, 31 Mei, omstreeks twee-uur se kant tot as verbrand het sonder dat iemand weens die verskriklike hitte en rook naby kon kom. Boshoff se suster, die sakevrou, me. Patrys Venter van Liébe Lulu op Bela-Bela wat skaars 50 m van haar broer op dieselfde plaas bly, het aan Die Pos gesê al wat hulle kon red, was van die voertuie. Een van die voertuie se sleutels kon hulle nie kry nie en hulle het dit feitlik “opgelig” en uitgekry. Sy het net lof gehad vir almal wat kom help het, sowel as twee brandweerlede van die Mabalingwe-natuurreservaat daar naby wat die hele nag daar was om te help, saam met bure en die polisie. “As dit nie vir hulle was nie, het alles voor die magtige vuur verloor,” het me. Venter gesê. Sy het ook die polisie en bure bedank. “Hulle hulp en ondersteuning was net fenomenaal.” “Dit is net deur die genade van die Here dat niemand seergekry het nie en ons die res van die geboue kon red.” Verskeie van die familie, sowel as ’n vriendin, het aan Die Pos gesê die brandweer het met die groot brand nie opgedaag nie, glo weens ’n gebrek aan brandstof. Boshoff het gesê dis aardse goed wat hulle verloor het “en ek glo vas daar is ’n doel met alles, al verstaan ons nie hoekom nie. Dis maar moeilik. “Ons sal net vorentoe moet beur. Wat ek die graagste sou wou red, is die familie-Bybel, erfstukke en dit met sentimentele waarde. Daar was baie oudhede van ons ouers en voorgeslagte wat ons vir altyd verloor het.” Hy het aan Die Pos gesê hulle sal tot tyd en wyl in ’n leë huis op die plaas nesskop tot hulle die huis op dieselfde plek herbou het. Volgens Boshoff het mnr. Gert Fourie hom gebel oor die brand. Hy het gesê “toe ek berg toe kyk, sien jy net vlamme”. Me. Venter het gesê sy het net ná twee-uur die oggend ’n geluid gehoor. Sy het uitgekyk en “die gloed gesien. Ek het my man wakker gemaak en gesê hier is groot fout”. Sy het haar vriendin en sakevennoot, me. Karien Bekker, gebel. “Ons kon niks meer doen nie. Die hele hoofhuis was al aan die brand.” Venter het gesê hulle het die middag daar rugby gekyk en iemand het plastiek geruik brand. Dit was die pomp van die jacuzzi. Die brandweer is ontbied, wat die vlamme geblus en gesê het hulle moet die hoofskakelaar van die huis afskakel, “wat ons gedoen het”. En nou dit. “’n Mens kan nie die verwoesting glo as jy by die huis staan nie. Alles is gebars; die pleister is van die mure af. Dit is ontstellend,” het sy gesê. Die oorsaak van die brand word ondersoek. © Die Pos |