![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
11 Junie, 2010 Martelise Bridger Die Reserwe Bank het verbruikers in ’n verklaring gewaarsku om vóór 31 Mei hul ou R200-banknote by hul naaste banke in te ruil. Verbruikers is gevra om egter nie paniekerig te raak nie, aangesien die kwessie rondom die R200-note onder beheer is. Me Tish Holbrook, hoof van die afeling vir handel en inligting, het ook in ’n persverklaring gesê besighede sal nie soseer geraak word nie, maar eerder die eindverbruiker. Holbrooks het gesê dat dit onwettig is vir ondernemings om die R200 noot te weier tensy daar sekerheid is dat dit ’n vervalste noot is. In ’n poging om die vervalsing van die R200-note wat voor 2005 gedruk is, te verhoed, moet die ou R200-note nou tot niet gemaak word. Volgens ’n woordvoerder vir die Reserwe Bank word die wettige nuwe R200-noot gekenmerk deur die handtekeninge van die vorige Reserwe Bank-hoof, mnr. Tito Mboweni, en huidige hoof, me. Gill Marcus, wat links-onder aan die noot verskyn. Kommersiële banke sal steeds die ou R200 noot aanvaar ná die sperdatum, maar slegs as deel van ’n deposito. Die betrokke R200-note kan slegs omgeruil word by die Reserwe Bank teen geen ekstra koste nie. “Ongelukkig is dit nie so maklik in kleiner dorpies nie. Ons is ontsteld oor die swak kommunikasie aan besighede en ook aan die gewone man op straat. “Ons het steeds kliënte wat met wettige ‘ou’ R200-note betaal, maar dan sit ons met die noot. As ons probeer om ons aflewerings met die geld te betaal, word dit geweier. Dit meen ons moet inderhaas daagliks die note bank toe neem,” het mnr. Jannie Joubert van Thaba Meetse op Vaalwater aan Die Pos gesê. “So baie van ons kliënte weet nie eens van hierdie terugruiling nie. “Ek voel dat drie weke nie genoeg tyd is om mense in te lig nie. Baie mense bêre hul R200-note in ’n blik onder die bed. Ek hoop net dat hulle betyds gehelp sal word. Wie sal tog ná die sperdatum die note by die Reserwe Bank vir hulle gaan omruil?” © Die Pos |