![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
11 Junie, 2010 Martelise Bridger Me Caroline Lombaard (52), ’n bekende inwoner van Vaalwater, het deesdae rede om te juig. Sy is in Februarie vanjaar in die Kloof-hospitaal in Pretoria opgeneem vir ’n kolonoperasie. Drie maande en agt operasies later, is sy wonderbaarlik ontslaan en terug by haar huis waar sy tans aansterk. Lombaard het vroeër vanjaar — nadat sy vreeslik gekla het van maagpyn — gehoor dat sy ’n kolektomie (kolonoperasie) moes ondergaan wat haar pyn sou verlig. ’n Dag ná die operasie het daar egter komplikasies ingetree en moes sy vir die volgende 23 dae agt noodsaaklike operasies ondergaan om haar lewe te red. Sy het ook ernstige nierversaking opgedoen en op een stadium geen bloeddruk gehad nie. Lombaard vertel dat sy baie dae nie veel geweet het wat om haar aangaan nie. Sy glo egter dat dit die ongelooflike krag van die Here is wat haar hierdie storie vandag kan laat vertel. Haar lewensmaat, mnr. Dup du Plessis (bekend as Dup Kalk), vertel selfs die dag toe sy vir drie minute opgehou asem haal het en dokters getwyfel het of sy sou oorleef, het hy net geglo dat sy nie nou sal gaan nie. “My Here het nog nie die boodskap gegee nie. In my gebede het ek geglo sy sal dit maak,” vertel Du Plessis. “Juis daarom wil ons graag vertel hoe geloof en hoop ’n werklikheid kan word in tye van wanhoop.” Vir drie maande lank het Lombaard se kinders, haar familie, vriende, en selfs vreemdelinge, haar by die hospitaal besoek en langs haar bed gebid. Sy wil graag spesiaal dankie sê aan al die mense wat haar ondersteun en vir haar gebid het. © Die Pos |