Die Pos front page
HOME / VOORBLAD

NUUS/NEWS INDEX/INDEKS

DIARY/DAGBOEK

WEATHER/WEER

SMALLS / KITSGIDS

FARMING/BOERDERY

LETTERS/BRIEWE

TITBITS/ONS HOOR

STOP
CRIME/MISDAAD

SPORT

WOMEN/VROUE

RECIPES/RESEPTE

CONTACT US
KONTAK ONS

EMERGENCY NUMBERS
NOODNOMMERS

Toekoms van Afrikaanse skole onder die soeklig
11 Junie, 2010

Die ATKV moet oor ’n hele aantal kernvrae besin om sy rol in die bevordering en fasilitering van onderwys in Suid-Afrika te bepaal.

Dit was die boodskap van dr. Theuns Eloff, vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit, op die ATKV se algemene jaarvergadering op Donderdag, 3 Junie, by die ATKV-Klein-Kariba Vakansieoord buite Bela-Bela.

Die tema van vanjaar se jaarvergadering was “Die ATKV as taal- en kultuurorganisasie se rol in die bevordering en fasilitering van onderwys in Suid-Afrika”. Eloff het gesê die ATKV moet bepaal wat die oorhoofse strategiese redes vir die bevordering en fasilitering van onderwys in Suid-Afrika is. “Die ATKV moet besluit of hy op die algemene Suid-Afrikaanse onderwys of op onderwys in Afrikaans, of op beide vlakke en of dit op primêre -, sekondêre- of tersiêre onderwysvlak, moet wees.

“Een van die ander vereistes in sy besinning oor betrokkenheid by onderwys, is of die ATKV al ’n objektiewe som gemaak het oor die volhoubaarheid van Afrikaans en die ander inheemse tale, as onderwystale en die toepaslikheid van onderwystegnologieë.

“Die organisasie moet ook bepaal wie sy vennote in hierdie aksie sal wees, hoe hy die politieke en vakunierolspelers gaan hanteer en presies waar sy fokus gaan val.

“In hierdie proses moet die ATKV uitspel wat sy verwagte uitkomstes is in sy fasiliterings- en bevorderingsrol,” het hy gesê. Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die vermindering van Afrikaanse skole. “Die Suid-Afrikaanse demografie is een van die oorsake hiervoor.

“Ons moet dus op plaaslike vlak bewus wees daarvan dat ander mense met begerige oë kyk na hierdie skole wat kleiner word, omdat hulle deurgaans goeie kwaliteite het. Indien leerdergetalle van ’n Afrikaans-medium skool daal, moet ons dit oorweeg om met ander soortgelyke kleiner Afrikaanse skole saam te smelt om te verseker dat Afrikaans-medium skole bly voortbestaan.

Dr. Nhlanhla Thwa-la, direkteur van die Wits Taalskool, het gesê die multi-kulturele samelewing in Suid-Afrika kompliseer die aanbieding van moedertaalonderrig, ondanks die feit dat die taal van leer ’n belangrike instrument in die opvoeding van kinders is. Daar moet ’n middeweg gevind word om formele onderwys, tradisionele onderwys en die behoefte aan nasiebou te versoen. “Tale in Suid-Afrika is nie almal op gelyke voet nie. Engels en Afrikaans is nader aan mekaar in die sin van gebruiksmiddel vir verdere akademiese opleiding as byvoorbeeld Zoeloe,” het hy gesê.

Dr. Huw Davies, besturende direkteur van die SA Stigting en voormalige direkteur-generaal van die departement van onderwys, het gesê alle onderwys word gebou op ’n visie vir die toekoms en is op ’n stel waardes en norme gegrond. “Dit is onduidelik of daar tans ’n duidelike stel waardes en norme vir die onderwys bestaan. ’n Politieke en ekonomies-gedrewe visie het ’n verdere invloed op die onderwysbestel.

Volgens Davies kan die ATKV ’n rol speel deur finansiële bystand te verleen by behoeftige skole, deur kohesie te vestig en waardes wat onderliggend is aan onderwys, sowel as op sosio-maatskaplike front, hierdie verhoudings versterk.

© Die Pos