![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
11 Junie, 2010 Ena Boshoff Die Bosvelddorpie Naboomspruit, wat aan die voet van die Waterberge lê, het maar ’n klein begin gehad toe daar op 8 Junie 1910 dorpstigting plaasgevind het. Nou, op 8 Junie 2010, is daar ’n gedenknaald onthul ter viering van die 100-jarige bestaan van Naboomspruit, wat deesdae Mookgophong heet. Inwoners van die dorp het op Dinsdag, 8 Junie, om elfuur hul sitplekke op die grasperk voor die munisipaliteit begin inneem vir die feestelike geleentheid, terwyl Pedi-dansers hul passies gewys het. Presies om twaalfuur het al die kerke op die dorp se klokke vir vyf minute lank gelui, terwyl die gaste in doodse stilte daarna geluister het. Daarna het raadslid Sarah Monyamane almal welkom geheet, waarna drie predikante van verskillende kultuurgroepe die opening waargeneem het. Mnr. Mauritz Hansen het kortliks die afgelope 100 jaar in oënskou geneem, waarna raadslid Ruben Kekana meer oor die geskiedenis van die munisipaliteit vertel het. Die burgemeester, me. Sarah Lamola, het ’n kort toespraak gelewer en daarna die Eeufees-gedenknaald amptelik onthul. Die woorde: Geloof, Groei en Genade kom op die gedenknaald voor, aan elk van die vier kante in ’n ander taal. Die dae toe daar nog leeus op die ou koetspad na die noorde was, is nou net vae herinneringe. Gelukkig is daar nog oral stukkies verlede wat behoue gebly het vir die nageslag. Die dorp het in die 100 jaar uitgebrei, maar het gelukkig nog sy plattelandse atmosfeer behou. © Die Pos |