Die Pos front page
HOME / VOORBLAD

NEWS/NUUS

DIARY/DAGBOEK

HAPPENINGS
JOLIFIKASIES

WEATHER/WEER

SMALLS / KITSGIDS

FARMING/BOERDERY

LETTERS/BRIEWE

TITBITS/ONS HOOR

STOP
CRIME/MISDAAD

SPORT

WOMEN/VROUE

RECIPES/RESEPTE
INDEX/INDEKS

CONTACT US
KONTAK ONS

EMERGENCY NUMBERS
NOODNOMMERS

CHILDREN'S FUND
KINDERFONDS


Non-Java Browsers: Back to recipe index

Hoenderpastei soos ouma s'n

’n Opgepofte hoenderpastei nes Ouma dit gemaak het. Dit is enige aspirant-kok, besige ma of luihuisvrou beskore, sê me. Kotie Wagner, Die Pos se kosvrou, wat vandeesweek die kombuisgordyn lig op skilferkorsdeeg en souserige vulsels.

Sy sorg ook vir ’n flatervrye pasteideeg vir “lui vroue” en gee ’n wenk of twee vir deeg as deksel op gestoofde vrugte of ingelegde perskes vir die soettand. Maak sommer worsrolletjies van die afval-deeg terwyl jy nou aan die gang is, is haar raad.

Nou wat is ’n lekker hoenderpastei? vis Die Pos vandeesweek by Kotie. “’n Hoenderpastei kan nie flop nie,” aldus Kotie. Laat net die vleis die praatwerk doen, geur met ’n sagte hand en moenie afskeep met die vulsel nie en siedaar: die hoenderpastei is as’t ware op die tafel.

Kotie glo ook in ’n bietjie sago vir ’n hoenderpastei, wat sy sommer in die mikrogolfoond in ’n bietjie melk tot deurskynend kook.

Haar pryswenner-pastei geur sy met naeltjies, sout en peper. Sampioene en –sop is opsioneel, na elke kok se smaak, meen sy.

Vir die Kotie-pastei het ’n mens nodig:

  • 1 groot hoender
  • Sout en peper
  • 3 heel naeltjies of ¼ t fyn naeltjies
  • 4 e sago
  • ½ pakkie sampioensop (opsioneel)
  • gesnipperde sampioene (opsioneel)

  • Geur hoender en kook tot sag.
  • Ontbeen en sit ontbeende vleis in die sous wat oorgebly het.
  • Sit sampioene en sampioensop by.
  • Kook die sago in melk in die mikrogolf tot deurskynend.
  • ’n Mens kan ook die sago by die hoender voeg en kook tot deurskynend.
  • Proe en geur totdat jy van die smaak hou.
  • ’n Bietjie aromat verrig wondere vir ekstra smaak of geur.

    Die pasteideeg vir “lui vroue soos ek”.

  • 1k koekmeel
  • 2 t bakpoeier
  • 125 ml botter of margarien
  • ¾ k melk
  • 1 eier
  • 2 ml sout
  • Vryf botter in meel.
  • Klits eier, melk en meng dit in die meel in vir ’n slap deeg.
  • Drup bo-oor die hoender en bak by 180°C.

    Wanneer die luivroudeeg gebruik word, moet die vleis lekker souserig wees. Die vleissous bak “in die deeg in”. Dit deug ewe goed op maalvleis of wildvleis wat ontbeen is.
    ’n Mens kan ook die deeg gebruik as ’n soetkors vir gestoofde vrugte of oor ingelegde perskes vir poeding. Gooi net 2 e suiker in die deeg.
    “Vir ’n deftige pastei, gebruik ek die resep van me. Joey Pienaar van Knuppeldik aan Koningskos-faam. Dit is die maklikste en lekkerste resep,” sê Kotie.

    Skilferkorsdeeg

  • 4½ k koekmeelblom
  • 1 t sout
  • 1½ t kremetart (hoogvol)
  • 1 botteltjie yskoue sodawater (280 ml)
  • 2 eiergele (net die geel, wit maak die deeg taai)
  • 25 ml (2e) witasyn
  • 500 g botter wat yskoud is.

    Gooi 4 koppies meel, sout en ½ t kremetart in ’n mengbak. Meng ½ k meel en 1 t kremetart in aparte bakkie en hou eenkant.
    Rasper ’n derde van die botter in die meel. Terwyl jy rasper “fluff” die botter in die meel in sodat dit nie ’n klont of hoop vorm nie. Vryf dan die botter in die meelblom in. Gooi yskoue sodawater, wat goed geklits is, saam met die eiers en asyn in en meng tot al die sodawater geabsorbeer is.
    Plaas die deeg in ’n plastieksak en gooi vir 30 sekondes lank op ’n tafel. Plaas die deeg en die oorblywende botter in die yskas vir minstens twee uur. (Botter verkieslik in vrieskas want dit moet baie koud wees.)
    Haal deeg uit yskas en rol uit in ’n groot reghoek. Rasper volgende derde botter oor die een helfte van die deeg. Versprei die botter sodat dit eweredig op die helfte van die deeg lê en strooi die helfte van die ½ k meel met kremetart wat jy eenkant gebêre het, bo-oor.
    Vou die ander helfte bo-oor en rol weer uit. Daar vorm lugblase in die deeg, wat so moet wees. Vou nou die oopgerolde deeg in drie (dus die linkerkant oor die middel en dan die regterkant bo-oor die linkerkantste deel). Vou nog ’n keer van onder na bo in drie dele.
    Rol weer oop in groot reghoek en herhaal met die laaste derde van die botter wat jy rasper, versprei en laaste van meel met kremetart oorstrooi. Jy moet nie dat die deeg warm raak nie. Jy kan dit in die yskas sit voordat jy die laaste botter oor rasper en rol.
    Hoe meer kere jy dit rol, hoe ligter gaan die deeg wees. Die botter wat ingesit is. moenie heeltemal weggewerk word in die deeg nie. Daar bly geel stippels van die botter, wat help om dit ligter te laat rys.
    Nadat jy dit die laaste keer gerol het en in ’n “blokkie “ opgevou het, is jou deeg reg vir gebruik. Rol dit soos ’n rolkoek op en sny dit in gerieflike rolle vir later gebruik en plaas vir ten minste agt ure in yskas.
    Rol uit en druk af vir tertjies of wat jy ookal wil bak. Sit in tupperhouer met plastiek tussenin en sit in vrieskas tot benodig. Haal direk uit vrieskas en plaas in oond en bak by 200ºC tot ligbruin.
    Die deeg wat afval nadat jy uitgedruk het, is net reg vir worsrolletjies. Dit gaan nie so hoog rys soos die eerste uitrol s’n nie.
    As jy konfyttertjies maak, bak dit sonder konfyt en spuit konfyt in sodra dit uit die oond gehaal en nog warm is. Werk versigtig en lig vir teetydtreffers.