Die Pos front page
HOME / VOORBLAD

NEWS/NUUS

DIARY/DAGBOEK

HAPPENINGS
JOLIFIKASIES

WEATHER/WEER

SMALLS / KITSGIDS

FARMING/BOERDERY

LETTERS/BRIEWE

TITBITS/ONS HOOR

STOP
CRIME/MISDAAD

SPORT

WOMEN/VROUE

RECIPES/RESEPTE
INDEX/INDEKS

CONTACT US
KONTAK ONS

EMERGENCY NUMBERS
NOODNOMMERS

CHILDREN'S FUND
KINDERFONDS


Non-Java Browsers: Back to recipe index

Pikante piesangbrood met Duitse smaakmiddel

Gooi ’n paar ekstra piesangs in die inkopiemandjie vir Kotie se piesangbrood. Dié piesangbrood klink na net die ding om lekkerbekke tevrede te hou en dis boonop ’n uitstekende kandidaat vir die vrieskas vir onverwagse eters op ’n mens se drumpel. Piesangs is tans goedkoop, so siedaar, ’n lekker sakpas-resep vir besige vroue.

Volgens me. Kotie Wagner, Die Pos se kosvrou, het twee van ons lesers vir ’n piesangbrood-resep gevra. Daarom kuier ons vandeesmaand rondom ’n piesangbrood en praat oor die vrugtekoek vir die feestyd. Wagner het soos altyd nuttige wenke om selfs dié tameletjie taamlik eenvoudig te laat klink!

Oor die piesangbrood sê sy dit is ’n heerlike Duitse piesangbroodresep, wat ’n vriendin jare gelede vir haar gegee het nadat sy ’n jaar in Duitsland gewerk het. Dit smaak “anders as die gewone” en die resep is ook bevry van die doodgooi-kluite wat ’n mense soms te koop kry of op jou koekbordjie beland. “Die speserye gee aan die piesangbrood ’n heel ander smaak as waaraan ons gewoond is, hoewel die speserye nie oorheers nie.”

Vir die vrugtekoek is Wagner se wenk: bak die koek in ’n kartondoos. “Dit spaar jou die groot werk om die pan uit te voer met lae en lae papier. “Ek gebruik ’n tikpapierboks, wat ’n lekker grootte is. Sny die onderkant van die boks sodat dit so 2 cm hoër is as die deksel. Versterk die punte, anders smelt die gom en trek los.

“Druk twee gate in met ’n dik naald deur die lae en knoop die flappe met lyn vas of gebruik ’n lekker krambinder met lang krammetjies om dit vas te kram. Voer dit uit met foelie aan die binnekant wat hoog bo uitstaan.

“Onthou om die foelie te spuit en skep die koekmengsel in. Wanneer die koek gaar is, laat koel af in die karton. Vou dit daarna toe, sit die deksel op en bewaar die koek in die karton totdat dit gesny word.” Volgens Wagner is die boks net reg as vakansiebagasie én as geskenk is dit reeds stewig verpak.

Onthou net om die koek gereeld met brandewyn te besprinkel sodat dit kan klam en ryp word. Nog ’n goeie wenk is om eerder whisky pleks van brandewyn te gebruik. Die whisky gee ’n besondere smaak wat die koek goed komplimenteer. Hier’s die Kotie-piesangbrood-resep. Geniet dié treffer.

Bestanddele:
  • 1½ k koekmeelblom
  • 1 k bruinsuiker
  • 1 eier
  • 1½ t neutmuskaat
  • 1½ t kaneel
  • 1½ t gemengde speserye
  • knypie sout
  • 1 t koeksoda
  • 3 e melk
  • 110 g gesmelte margarien
  • 4 ryp piesangs
  • handvol neute (opsioneel)

    Metode

  • Smelt die margarien oor ’n lae hitte, voeg suiker by en roer goed deur.
  • Voeg eier en verpulpte piesangs by en meng. Los koeksoda in melk op en meng in by die mengsel. Sif die droë bestanddele saam en vou in die margarienmengsel in.
  • Skep in ’n gesmeerde broodpan en bak by 180°C vir 40 minute.
  • Gooi versigtig uit op ’n draadrakkie en laat koel af.

     Nóg ’n leser het na ’n resep vir “Romany Creams” gesoek, wat na die gewilde koekie van die Baker-man proe. Wagner soek nog, maar volgens haar het sy ook nog nie die ware Jakob raakgeloop nie.