Die Pos front page
HOME / VOORBLAD

NEWS/NUUS

DIARY/DAGBOEK

HAPPENINGS
JOLIFIKASIES

WEATHER/WEER

SMALLS / KITSGIDS

FARMING/BOERDERY

LETTERS/BRIEWE

TITBITS/ONS HOOR

STOP
CRIME/MISDAAD

SPORT

WOMEN/VROUE

RECIPES/RESEPTE
INDEX/INDEKS

CONTACT US
KONTAK ONS

EMERGENCY NUMBERS
NOODNOMMERS

CHILDREN'S FUND
KINDERFONDS


Non-Java Browsers: Back to recipe index

Hoender met broccoli

Die Pos het die koerant se kosvrou, me. Kotie Wagner, gevra om met ’n hoender, wat steeds relatief goedkoop vleiskos is, te “toor”. Sy het soos gewoonlik ’n kop vol planne om steeds met ’n geurige skottel tafel toe te gaan sonder om bankrot anderkant uit te kom.

Bestanddele:
900 g gaar hoender
± 750 g bevrore of vars broccoli
250 ml mayonnaise
1 blik (410 g) sampioenroomsop
5ml kerriepoeier
die sap van ’n halwe suurlemoen
55 ml botter
450 ml vars broodkrummels
500 ml gerasperde Cheddar-kaas of kaas van jou keuse (’n mens kan minder gebruik)

Metode:
1. Ontbeen en sny hoender in blokkies. Stel oond op 180°C. Kook broccoli vir vyf minute in soutwater en dreineer. Sit laag hoender en laag broccoli in ’n dieperige oondskottel.
2. Maak ’n sous van die mayonnaise, sop, kerriepoeier en suurlemoensap en giet bo-oor. 3. Smelt botter, meng met krummels en kaas en strooi bo-oor. Bak tot kors bo-op goudbruin is.
3. ’n Mens kan ook die water waarin die hoender gekook is, gebruik om pasta te kook. Dit kan saam met die broccoli en hoender in die bak beland. Ewe lekker.

Volgens Wagner kook sy sago met melk, in ’n 2 liter-maatbeker in die mikrogolfoond. “Dit is nie nodig om die sago te week as jy dit in die mikrogolf kook nie. “Een koppie sago en sowat drie kopies melk kook ek vir 15 tot 20 minute op 50% krag (as ek poeding of melkkos maak — minder vir die bietjie hoender in resep).

“Roer net so af en toe sodat die sago nie ’n klipharde bol onder in die maatbeker vorm nie. Ek roer dit na so 10 minute en die laaste rukkie hou ek dit maar net dop sodat dit nie oorkook nie,” is Wagner se sago-plan.

Volgens haar maak die melk en sago die hoender lekker romerig. Gaar ontbeende hoender kan volgens Wagner ook gemeng word met sago, mayonnaise en iets soos soetrissies of bietjie ertjies wat oorgebly het tot ’n lekker smaaklike gereg. “Afhangend van hoeveel sagomengsel en gelatien in die sous van die hoender is, kan jy dalk bietjie gelatien byvoeg en dit stol in ’n gesmeerde broodpannetjie of jelliering in die die yskas.”

Sny snytjies en sit voor saam met ’n slaai of broodjie in die somer as dit so warm is. Dis ook baie gerieflik vir eters tussen al die rugbywedstryde wat tans aan die gang is. Met een hoender kan ’n mens een of twee broodpanne vul. Dit kan ook van oorskiethoender gemaak word.

’n Mens hoef in die stroewe ekonomiese klimaat ook nie die duur blikkies sop te koop om in geregte te gebruik nie, aldus Wagner. Maak ’n pakkie sop aan met die regte hoeveelheid water en gebruik dit in die plek van die blikkiesop.

So kan ’n mens byvoorbeeld ook met een aartappel en ’n ui ’n hele klompie aartappelkoekies maak as bykos of ligte maaltyd. Skil die aartappel en ui en kap fyn met die Braunmenger met die lemmetjies of versapper. Klits ’n eier en roer by. Geur met sout en peper en voeg bietjie bruismeel by totdat dit goed gebind is.

Dit moet nie te dik wees nie — min of meer soos plaatkoekiedeeg. Bak in vlak olie tot bruin aan albei kante. ’n Mens kan ook die aartappel grof rasper en dan die eier en meel byvoeg.