![]() HOME / VOORBLAD ![]() NUUS/NEWS INDEX/INDEKS
|
Vrydag, 4 Junie, 2010 Louise Labuschagne Dit was so al asof ’n paar langasems van die Bosveld hier teen die einde op pad na die Comrades se eindpunt Sondagmiddag, 31 Mei, met die leeu se stert begin speel het. Victor Emslie van die Warmbad Marathon-klub, wat sy negende voltooi het, het so 1:24 sek voor die afsnytyd sy belangrike 2010-medalje (Vic Clapham) gekry. Riana Vorster (5 medaljes), voorsitter van die klub, was darem so ’n entjie van die leeu af op 11:49. Hoewel Henry Mudge (11:49) en Vorster so saam-saam klaargemaak het, was dit Mudge se nommer 25. Hy het dié mylpaal verdien in die sogenaamde af-wedloop van Pietermaritzburg na Durban. Nog twee Bosvelders wie se Comrades-name in hoofletters gespel moet word, is Charl Bredell van die Nylstroom Marathon Klub, en Freek Swanepoel, prokureur van Mookgophong (Naboomspruit). Die ander Nabomer was Chris van Greuning wat brons verdien het. Bredell het die Comrades al 28 keer gehardloop — “voorwaar ’n besondere prestasie”, het ’n woordvoerder van die klub gesê. Volgens hom was dit die “stadigste, moeilikste en ergste” een. Hy is nou een van slegs 14 atlete in die land wat al 28 medaljes tydens die Comrades verower het, onder wie die legendarie Bruce Fordyce. Daar is 12 atlete wat 29 medaljes het en agt atlete wat nou 30 medaljes verower het. Swanepoel het aan Die Pos gesê vir hom was dit 25 in ’n ry en hy het sy 25 medaljes van elke jaar om sy prestasie te wys. Volgens hom raak dit nou moeiliker nadat hy sy eerste wedloop op 31 gehardloop het. Hy sou graag mik vir 30 as die “lyf en die genade hou”. Hy het vanjaar die Vic Clapham-medalje gekry vir onder twaalf uur. Sy vrou, Gerda, en dogter, Gerda-Marie, het al elk een keer saam gehardloop. Vorster het op pad van die Comrades aan Die Pos gesê sy is “all smiles. Ek is in een stuk.” Sy het haar heup vroeër tydens ’n Twee Oseane-wedloop gebreek. Hoewel sy tien minute voor die afsnytyd klaargemaak het, “wou ek dit geniet en wou ek die medalje net hê. Ek wou eerder die medalje hê as om nie klaar te maak nie”. Warmbad-klub se bronsmedaljewenners is Philip Weideman (5), Petrus Mafafo (16), Phillip Pottas (3) en Daleen Holtzhausen, wat haar eerste Comrades-medisyne ingekry het. Die Vic Clapham-medaljes behoort na dese ook aan die Oosthuizen-gesin. Tjaart Oosthuizen (2) jnr. en snr. sowel as Minnie Oosthuizen (6) het dit al drie ontvang. Die ander is Tonie Grobler (5), Louis Botes (14), Paul Bester (6) en Chris Smith (13). Annelize Barkhuizen berig die atlete van die Nylstroom Marathon Klub het die jaar se Comrades veral baie geniet. Marietjie en Schalk van der Merwe het elk ’n bronsmedalje gekry. “Dit was ’n ondervinding wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was ’n groot uitdaging en ek weet nie of ek dit ooit weer sal doen nie, maar die sukses om die marathon klaar te maak is onbeskryflik,” het Linda Fourie ná haar eerste Comrades aan Die Pos gesê. Sydney Gregan het ’n Vic Clapham-medalje ontvang. Nog net een dan het hy sy dubbelgroen-nommer en 20 wedlope voltooi. Baie inspirerend is ’n voormalige lid van die Nylstroom Marathon Klub, Michael Wilkinson van Polokwane, wat saam met Stefan Steyn, ’n blinde atleet, die Comrades-wedloop voltooi het. Hulle het ’n Bill Rowan losgehardloop in ’n tyd van 08:55:48. Dit was Wilkinson se tiende Comrades en Steyn se negende.
|