![]() HOME / VOORBLAD NEWS/NUUS WOMEN/VROUE INDEX/INDEKS
|
Vrydag, 1 April, 2010 Louise Labuschagne Wenners! Dít is wat lede van Alma se Vroue Landbou Unie-tak is nadat die beoordelaars tydens die Bosveldstreek-konferensie hul werk onder die vergrootglas bekyk het. Benewens vragte eerste-, tweede- en derdeplekke, is Alma aangewys as top-tak en het hulle weggestap met die meeste punte. Tel daarby sy blommerangskikkers se prestasies agter die vase, me. Annette Swart, nóg ’n Alma-lid, wat die meeste individuele punte agter haar naam het ná die konferensie en me. Ina Britz wat as beste skakelbeampte aangewys is. Volgens ’n woordvoerder van die tak “het Annette se batik die beoordelaars se stem as naaswenner gekry, terwyl haar klokstrook as wenner bekroon is”. Die gebakte kaaskoek uit die Swart-kombuis was boonop derde. Me. Engela van der Heyde het gewys sy het nie sommer haar gelyke met lemingtons nie, terwyl me. Selma Joubert, ook van Alma, die bronsmedalje in dié afdeling gewen het. Mee. Trudie de Beer en Mimi Marx kan na dese die geheim van hul lemoenskil-rolletjies met lesers deel nadat hulle onderskeidelik tweede en derde was, terwyl me. Anna van Breda die voorste plekmatjies ingeskryf het. Die eerste prys was hare. Alma se blommevroue, Van der Heyde en me. Vicki Smith, was eerste in hul onderskeie kategorieë, terwyl me. Mari Kruger eerste en De Beer tweede in die ope-afdeling was en Swart derde in haar kategorie. Die Bosvelders was boonop in die kol met sy 2010-sokkertema vir die saal, terwyl me. Tharina Rossel, president van VLU Noord, die konferensie geopen het. Sy het verskeie vroue uitgesonder wat opgestaan en hulle stemme deur die eeue laat hoor het, elkeen met sy eie stempel. Onder hulle was Eva, Maria Magdalena, Helen Kel-ler, Moeder Teresa en vandag, Helen Zille, premier van die Wes-Kaap. Volgens haar is Zille veral nou die een wat kapsie maak teen dwelms, korrupsie en die vrou se regte beklemtoon. Rossel het gesê gemeenskappe moet opstaan teen pornografie, betrokke wees by polisiëring en hul stem gebruik om “gemeenskapgesond” te wees. “Vroue is die ságter geslag, nié die swakker geslag nie.”
|